Waar alles begin het
Toe ek nog klein was, het ek in die vrugbare vallei geboer. Dit was maklike werk, en die beloning vir my arbeid was eenvoudig die plesier daarvan. Namate ek ouer geword het, het ek ook die heuwels begin ploeg. Dit het wel meer moeite geverg, maar my êe kon dit aan, en my loon van voldoening was dit werd. Maar eendag, toe ek teen die kruin van ’n koppie sit en tevrede om my heenkyk, sien ek vir die eerste keer agter die heuwel dat die wêreld veel groter is. Die volgende hoogte was ’n kale berg, wat enige ploegskaar tot nuttelose yster sou slyp. Waar dinge tot dan toe al hoe makliker geraak het hoe meer ek bereik het, sou daardie berg my lewe al hoe moeiliker maak hoe verder ek vorder. Die berg sê toe vir my, in sy onheilspellende stem, “gee dit op, jy sal my tog nie kan aandurf nie”. En in daardie oomblik, toe ek sy uitdaging aanvaar, met ’n ligte gemoed en wetend wat voorlê, het ek volwasse word.